Waters of Life

Biblical Studies in Multiple Languages

Search in "Afrikaans":
Home -- Afrikaans -- Romans - 050 (The Spiritual Privileges of the Chosen)
This page in: -- AFRIKAANS -- Arabic -- Armenian -- Azeri -- Bengali -- Bulgarian -- Cebuano -- Chinese -- English -- French -- Georgian -- Greek -- Hausa -- Hebrew -- Hindi -- Igbo -- Indonesian -- Javanese -- Kiswahili -- Malayalam -- Polish -- Portuguese -- Russian -- Serbian -- Somali -- Spanish -- Tamil -- Telugu -- Turkish -- Urdu? -- Yiddish -- Yoruba

Previous Lesson -- Next Lesson

ROMEINE - Die Here is ons Geregtigheid
Studies in die Brief van Paulus aan die Romeine
DEEL 2 - DIE GEREGTIGHEID VAN GOD IS ONBEWEEGLIK SELFS NA DIE VERHARDING VAN DIE KINDERS VAN JAKOB, SY GEKOSE VOLK (Romeine 9:1 - 11:36)

2. Die geestelike voorregte van die gekose mense (Romeine 9:4-5)


ROMEINE 9:4-5
4 Hulle is Israeliete aan wie die aanneming tot kinders behoort en die heerlikheid en die verbonde en die wetgewing en die erediens en die beloftes; 5 aan wie die vaders behoort en uit wie die Christus is na die vlees Hy wat oor alles is, God, lofwaardig tot in ewigheid! Amen.

Paulus wou die kerk in Rome herinner aan die geestelike voorregte en regte van sy volk. Hy het terselfdertyd bely dat daardie voorregte hom en sy mense nie gehelp het om die ware Messias te erken of te aanvaar nie; daarom het hulle hom gehaat, verwerp en afguns betoon totdat hulle hom uiteindelik uitgelewer het om gekruisig te word. Hulle harte is verhard, selfs teen die Heilige Gees. Net soos duisternis geleidelik plaasvind en nie skielik nie, so het dit met die verharding van sy mense gebeur.

Wat was die seëninge wat aan Paulus se landgenote behoort het en wat hulle van ander mense onderskei het?

Hulle oorspronklike naam was die kinders van Jakob, die bedrieër, en nie die kinders van Israel nie. Maar hul vader, wat sondig was, het nie die Here gelos voordat die Here hom geseën het nie. Weens Jakob se vaste geloof het die Here sy naam na Israel verander en dit beteken, ‘hy wat met God (El) geworstel het en deur geloof volhard het’. Jakob was nie fisies sterk of goed gemanierd nie, maar hy het vaste geloof gehad wat hom gered het van God se toorn en oordeel (Genesis 32:22-32).

Jakob was een van die voorouers van Jesus. Jesus is die Lam van God wat die sonde van die wêreld weggeneem het en met God geworstel het om ons van die oordeel oor ons sondes te red. Hy het aan God vasgehou en hom nie gelos voordat God ons almal geseën het nie. Die Seun van Maria is ons Redder wat ons bevry het van oordeel. Die ware worstelaar met God is daarom nie Jakob nie, maar Jesus; hy is die enigste en ware Israel wat ons gered het van die toorn van God.

Die Jode, Christene en Moslems wat hierdie middelaar nie aanvaar nie, sal nooit in sy seëninge deel nie en ook nie aan sy gekose geestelike mense behoort nie. Hierdie wete het Paulus se hart met droefheid gevul, want hy het gesien dat die meerderheid van sy mense nie hulle beloofte regte herken het nie, maar dit verwerp het weens hul geestelike blindheid en trots.

Die Here het Moses beveel om na die Farao van Egipte te gaan en hom te vertel dat die kinders van Jakob sy eersgeborene was (Eksodus 4:22; 14:1, 32:6; Hosea 11:1-3). Die Here het gely onder die hardkoppigheid van sy kinders wat hom nie geëer het nie, hoewel hy die reg van aanneming gegee het. Hulle was nie weergebore nie, maar hulle het die reg van die eersgeborene van die Here gehad.

Die heerlikheid van die Here het in die allerhoogste gewoon, die binnevertrek van die tabernakel, terwyl die gekose mense in die wildernis geswerf het. Die Here het hulle beskerm en gelei, en wonderwerke verrig (Eksodus 40:34; Deuteronomium 4:7; 1 Konings 2:11; Jesaja 6:1-7; Esegiël 1:4-28; Hebreërs 9:5). Die Here het egter die gekose mense gestraf en hulle met die dood gedreig weens hulle ongeloof, maar die intreding van Moses en Aaron het hulle daarvan gered (Numeri 14:1-25).

Paulus herinner die Jode van ander voorregte wat in ‘n reeks van verbondsooreenkomste te vinde is wat getuig oor die groot en magtige waarhede van God, dat die Here, Skepper en regverdige Regter, homself vir ewig aan hierdie nietige mense gebind het. Die Bybel praat van die volgende verbondsooreenkomste:

God se verbond met Noag (Genesis 6:18; 9:9-14).
God se verbond met Abraham (Genesis 15:18; 17:4-14).
Die Here se verbond met Isak en Jakob (Genesis 26:3; 28:13-19; Eksodus 2:24).
Die Here se verbond met Moses (Eksodus 2:24; 6:4; 24:7-8; 34:10, 28).

Ongelukkig getuig die Bybel herhaaldelik dat die volk van die ou verbond daardie beloftes telkemale verlaat het en daarom het die profeet Jeremia gesê dat die Here besluit het om ‘n nuwe verbond met hulle te sluit; sy ongehoorsame mense sou geestelike nuutgebore word (Jeremia 31:31-34).

Die wet is die fondasie van die Here se verbond met sy volk deur die profeet Moses. Die boek van die verbond met die tien gebooie was ‘n beginpunt vir ‘n totaal van 613 gebooie, insluitend 365 negatiewe gebooie (verbiedinge) en 248 positiewe gebooie, volgens Maimonides.

In die begin van hierdie gebooie lees ons hierdie direkte stelling: "Ek is die HERE jou God ... Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.” (Eksodus 20:1-3).

Hy wat die bedoeling van hierdie gebooie bestudeer, vind dat die gebod: “Heilig moet julle wees, want Ek, die HERE julle God, is heilig.” (Levitikus 19:2). Die kern van hierdie gebooie is: “Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag.” (Deuteronomium 6:5), en “jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Levitikus 19:18).

Ons vind egter niemand behalwe Jesus, wat al hierdie gebooie nagekom het nie (Psalm 14:3; Romeine 3:10-12).

Die aanbidding van God voor die tabernakel en toe in die tempel van Jerusalem, het eerstens die reiniging van die sondaar vereis deur verskeie offers sodat hy geregtig was om tot God te nader en hom te aanbid. Dit het gebeur deur die herhaling van psalms gesange en smekings, die belydenis van sonde, die doen van rites en deur aanbidding. Hy wat die boek van Psalms bestudeer vind die gees en toepassing van hierdie stellings. Die belangrikste van al hierdie handelinge van aanbidding, sonder die bring van offers, was om seën te ontvang.

Hierdie handelinge van aanbidding het ‘n hoogtepunt bereik tydens die feeste, spesifiek die Pasgafees, die Pinksterfees, die fees van Tabernakels en Jom Kippoer (Versoeningsdag).

Die fokus op die inwoning van God in die tempel van Jerusalem het die eenheid van die nasie versterk. Ten spyte van hierdie geestelike kern was daar baie dorpies wat altare vir Baal gemaak het en aan ander gode geoffer het, en sodoende God se toorn teen hulle uitgelok het.

Die Ou Testament het verskeie pertinente beloftes waarin daar drie doelstellings te vinde is:

a) Die teenwoordigheid, vergifnis, beskerming en troos van die Here hulle God (Eksodus 34:9-11).
b) Die beloftes van die koms van Christus, die Prins van Vrede, en die Lam van God (Deuteronomium 18:15; 2 Samuel 7:12-14; Jesaja 9:5-6; 49:6; 53:4-12).
c) Die uitstorting van die Heilige Gees op die gekose mense en alle vlees (Jeremia 31:31-34; Esegiël 36:26-27; Joël 3:1-5).

Die meerderheid van die Jode het egter nie die koms van die Lam van God, die Koning van hul mense, herken nie. Hulle het die uitstorting van die Heilige Gees verwaarloos en eerder die koms van ‘n magtige politieke staat verwag. Hulle het daarom nie hulle sondes herken nie en ook nie na ‘n nuwe geestelike geboorte gesoek nie. Baie beloftes is vervul deur die optrede van Jesus en die uitstorting van die Heilige Gees op sy volgelinge, maar die meerderheid van die gekose mense het nie hierdie vervulling van die beloftes vir hulle herken of aanvaar nie.

Die vaders van die gekose mense was nie filosowe nie, maar veewagters en priesters vir ander. Hulle is deur Abraham, Isak en Jakob verteenwoordig, want hulle opregte geloof het hul swakhede oorkom. Die Here van die verbond was die God van Abraham, en van Isak en van Jakob genoem (Genesis 35:9-12; Eksodus 3:6; Matteus 22:32).

Nie Moses, Dawid, Elia of enige ander karakter van die Ou Testament het enige universiteit of akademie gestig nie, maar hulle het herhaaldelik die waarheid en krag van die Here ervaar, ten spyte van die korrupsie van mense. Hulle het in ooreenstemming met hul geloof geleef en ‘n goeie voorbeeld geword vir hul mense, ‘n fontein van seëninge vir hul kleinkinders.

Die grootste voorreg en eer van die mense van Israel was die koms van die verwagte Messias, die Koning van konings, die ware Hoë Priester en die geïnkarneerde woord van God in wie ons gesag, mag en die liefde van God tussen mense sien. Hy het gesê: “Ek is die lig van die wêreld,” omdat die liefde van God in hom gewoon het en die Heilige Gees hom verheerlik het. Hy en God is een, soos hy bely het, “Ek en die Vader is een” (Johannes 10:30). Volgens hierdie woorde en die apostel Paulus is hy “God” genoem. Hy het nie gesê “’n god” nie, maar die ware “God”, soos al die kerke bely het dat Christus God van God is. Lig van lig. Ware God van die ware God, voortgebring, nie geskep nie, een in essensie met die Vader.

Die Jode was ontsteld, het moeilikheid gemaak en die Christene vervloek weens die belydenis van Paulus in sy brief aan die kerk in Rome. Die meerderheid van die Jode het Jesus as ‘n misleier, lasteraar en rebel teen God beskou en hulle het hom aan die Romeine uitgelewer om gekruisig te word. Hulle het in hul verharding volhard sedert die tyd van Jesaja, d.i. 700 v.C. (Jesaja 6:9-13; Matteus 13:11-15; Johannes 11:40; Handelinge 28:26-27).

Volgens hierdie verse vind ons dat die verharding van hul harte toegeneem het en meer duidelik geword het. Hulle het nie van hul sonde bekeer nie, maar hulleself as geregtig beskou omdat hulle die wet van Moses onderhou het en na ander as uitgeworpenes gekyk het.

Tydens hul verharding het Johannes die doper gekom om die pad vir Christus voor te berei en baie mense is deur hom gedoop. Hulle het van hom gehoor dat Jesus die Lam van God is en het verstaan dat Jesus met die Heilige Gees sou doop om ‘n nuwe geestelike koninkryk te vestig; almal wat deur Johannes gedoop is, is voorberei om Christus te aanvaar. Jesus het nie wetsgeleerdes, vromes en ander geleerdes gevra om hom te volg nie, maar hy het diegene geroep wat hul sondes voor Johannes die doper bely het en hulle het dissipels geword wat deur die Heilige Gees gevul is. Die misterie in die gekose mense is nie kennis, rykdom, politieke ervaring of grootheid nie, maar belydenis van sonde en ‘n gebroke gees. Diegene wat berou het oor hul sondes, verkry verlossing en die ewige lewe van Christus.

Die wetlike voorregte wat die mense van Israel geniet het, addisioneel tot die teenwoordigheid van God by hulle, het ‘n negatiewe effek op die meerderheid van die Jode gehad. Hulle het trots en dominerend geword oor die ander nasies en hulleself geregtig beskou sodat hulle nie behoefte aan bekering gehad het nie. Hulle het nie hul sondes erken nie, maar hul harte verhard teen God, teen Christus en teen sy Gees, totdat hulle ryk aan voorregte was, maar arm in gees.

Paulus was ook eens fanaties en trots. Hy het die volgelinge van Christus gemartel, hulle geforseer om afvallig te raak en diegene doodgemaak wat vas gestaan het in hul geloof. Sy ontmoeting met Christus op die pad na Damaskus het sy lewe verander en hom sy oortredings en korrupsie laat bely. Hy het gebroke geword deur die genade van Christus, weergebore geraak deur die Heilige Gees en ‘n apostel van die Here Jesus geword.

Paulus het besef dat wat ‘n mens red is nie sy herkoms uit die nageslag van Abraham of sy besnydenis nie, maar regverdigmaking deur die versoening van Christus en deur met sy Heilige Gees vervul te wees. So word ‘n mens in die geestelike liggaam van Christus ingeënt en word ‘n mens ‘n lid daarvan. Deur sy prediking van die evangelie vir die nuwe generasie van Abraham, het Paulus besef dat die geestelike koninkryk van God nooit dieselfde kon wees as die politieke staat van Israel nie. Dis jammer dat die geestelike liggaam van Christus vandag erge vervolging in Israel beleef. Paulus het nie van ‘n politieke staat gepraat nie, maar van die geestelike koninkryk van Christus wat oral in die wêreld sou verskyn en vir waarheid en reinheid herkenbaar sou wees.

GEBED: O hemelse Vader, ons dank u vir u geduld met u gekose mense en verheerlik u vir die beloftes wat u in die Ou Testament gemaak het aan hierdie rebellerende mense, ten spyte van u waarskuwings en strawwe. Vergewe ons en u mense, as ons nie u groot liefde erken het deur geloof en getrouheid nie. Red die kinders van Abraham deur hul gedagtes te vernuwe en reinig hulle harte vir die lewende Christus.

VRAE:

  1. Hoeveel voorregte het Paulus vir die mense van die ou verbond genoem? Watter een lyk vir jou die belangrikste?
  2. Hoekom was die genade van God nie by magte om die meeste van die verkose mense wat van een veroordeling na die volgende geval het, te red nie?

www.Waters-of-Life.net

Page last modified on March 19, 2014, at 12:48 PM | powered by PmWiki (pmwiki-2.3.3)