Waters of Life

Biblical Studies in Multiple Languages

Search in "Afrikaans":
Home -- Afrikaans -- Romans - 057 (Is Israel Responsible for their Unbelief?)
This page in: -- AFRIKAANS -- Arabic -- Armenian -- Azeri -- Bengali -- Bulgarian -- Cebuano -- Chinese -- English -- French -- Georgian -- Greek -- Hausa -- Hebrew -- Hindi -- Igbo -- Indonesian -- Javanese -- Kiswahili -- Malayalam -- Polish -- Portuguese -- Russian -- Serbian -- Somali -- Spanish -- Tamil -- Telugu -- Turkish -- Urdu? -- Yiddish -- Yoruba

Previous Lesson -- Next Lesson

ROMEINE - Die Here is ons Geregtigheid
Studies in die Brief van Paulus aan die Romeine
DEEL 2 - DIE GEREGTIGHEID VAN GOD IS ONBEWEEGLIK SELFS NA DIE VERHARDING VAN DIE KINDERS VAN JAKOB, SY GEKOSE VOLK (Romeine 9:1 - 11:36)
4. Die geregtigheid van God word slegs deur geloof verkry en nie deur die Wet te probeer onderhou nie (Romeine 9:30 - 10:21)

d) Is Israel verantwoordelik vir hul ongeloof? (Romeine 10:16-21)


ROMEINE 10:16-21
16 Maar hulle was nie almal gehoorsaam aan die evangelie nie; want Jesaja het gesê: Here, wie het ons prediking geglo? 17 Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God. 18 Maar ek sê: Het hulle miskien nie gehoor nie? Ja, seker! Oor die hele aarde het hulle stem uitgegaan en tot by die eindes van die wêreld hulle woorde. 19 Maar ek vra: Het Israel dit miskien nie verstaan nie? Ten eerste sê Moses: Ek sal julle jaloers maak op dié wat geen volk is nie, en Ek sal julle toorn opwek teen 'n onverstandige volk. 20 En Jesaja durf selfs sê: Ek het My laat vind deur die wat My nie gesoek het nie; Ek het verskyn aan die wat na My nie gevra het nie. 21 Maar van Israel sê Hy: Die hele dag het Ek my hande uitgebrei na 'n ongehoorsame en teësprekende volk.

Paulus het aan die kerk in Rome met hierdie beslissende verklaring getuig dat die meerderheid van die Jode wat vir die Messias gewag het, hom nie herken het nie en ook nie die goeie nuus van oorwinning in hom nie, maar die woord van God ten alle tye teengestaan het. Dit was duidelik in die tyd van die profeet Jesaja wat vol droefheid en in sy gebede gely het vir sy volk 2700 jaar gelede. Hy het gesê: Wie het geglo wat aan ons verkondig is? (Jesaja 53:1).

Baie van die Jode het die evangelie gehoor. Hulle het dit egter nie verstaan of geglo nie. Sommige het die genade gevoel wat hulle aangebied is, maar hulle wou dit nie gehoorsaam nie. Hulle het hulle ongelowige omgewing en verharde nasie meer liefgehad as die reddende Here; hulle het die mens gevrees meer as wat hulle ontsag gehad het vir die genadige Skepper.

Paulus het geantwoord met ‘n opsomming van sy vorige toespraak, dat geloof deur prediking kom. Wat belangrik is, is nie hoe die evangelie jou bereik nie, soos deur ‘n gesang of ‘n sekere Bybelvers, maar dat as God aan die deur van jou hart klop, dat jy dit dan onmiddelik sal oopmaak, anders is jy in gevaar dat hy jou sal verbygaan. Diegene wat die evangelie aan ander bring, moet dit nie in deftige taal probeer doen wat nie deur gewone mense verstaan word nie, maar in eenvoudige woorde. Die spreker moet die woord van God in die taal van sy hoorders bring. Hy moet dit volledig bring en nie slegs gedeeltelik nie. Elkeen wat preek moet homself oplei om praktiese voorbeelde te gee en om vriendelik en persoonlik te wees. Gebed moet die verkondiging van die woord en die wil van God vergesel, en die spreker moet God glo en sy getuienis kroon met lof en dankbaarheid aan God.

Prediking is nie ‘n teoretiese leer nie, maar ‘n roeping van die Here, gevestig op sy bevel en ‘n opdrag aan hulle wat deur hom toegerus is. Ons geloof in die Here is daarom meer belangrik as ons geloof in die evangelie, want die Here het ons sy woord gegee om na diegene te bring wat sal luister, om hulle daarmee te waarsku, te onderrig, te roep, te bemoedig en uit te daag. Die spreker praat nie in die plek van Christus nie, maar is eerder ‘n lojale ambassadeur, ‘n gesant van hom, soos die apostel Paulus gesê het: “Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen.” (2 Korintiërs 5:20).

Paulus wonder: Miskien het baie van die Jode nie gehoor van die verlossing van Christus nie? Miskien het niemand hulle duidelik vertel van die enigste Redder nie? Ons vind die antwoord op die apostel se vraag in Psalm 19:5: die woord van God is soos die son van geregtigheid. Die son wat opkom is van die een kant van die hemel, in ‘n baan na die ander kant, en daar is niks wat van die hitte daarvan verskuil is nie. Net soos die son die wêreld verlig, so verlig die evangelie die wêreld. In die tyd van Jesus het menigte mense sy wonderwerke gesien en sy woorde gehoor. Vandag sê ons dat diegene wat wil hoor, kan hoor, en hy wat soek, sal vind. Radio en televisie programme help enigeen wat die evangelie wil hoor.

Vandag wonder die mens: Wat moet ek kies: geld of Gees? Geld of God? Soek ek na status, mag, seks en vermaaklikheid? Of wil ek die woord van God hoor en gehoorsaam? Mense gee oor aan selfbevrediging in alle areas van die lewe. Wie wil dan hoor en die Skepper dien? Paulus wonder verder: Miskien het die kinders van Jakob nie verstaan wat vir hulle gesê is nie?! Miskien is die evangelie nie volledig aan hulle gebring nie?! Maar God het alreeds hierdie vraag deur Moses geantwoord toe hy gesê het: Hulle het my ywer gewek deur wat nie-God is, My geterg deur hulle nietige afgode. Ék sal dan hulle ywer wek deur die wat 'n nie-volk is, deur 'n dwase nasie sal Ek hulle terg. (Deuteronomium 32:21).

Met hierdie stelling aan Moses het die Here bedoel om aan sy volk te sê: “Aangesien julle nie my woord wil hoor nie, sal ek myself en my liefde openbaar aan hulle wat nie gekies is nie en wat nie weet wat julle weet nie. Ek sal julle jaloers en kwaad maak as julle sien hoe die ongekose nasies in my guns is, in stede van julle wat verwaand en arrogant is. Ek sal hulle lei om my lief te hê en te eer.”

God het aan sy profeet Jesaja 600 jaar voor Christus verklaar: “Ek het My laat raadpleeg deur wie na My nie gevra het nie; Ek het My laat vind deur die wat My nie gesoek het nie” (Jesaja 65:1; Romeine 9:30).

Deesdae sien ons dat God ongelowiges teenstaan sodat hulle sy bestaan mag erken. Hy praat met diegene wat nie in hom belangstel nie deur drome, gebeure en siektes. In die wetenskaplike wêreld sien ons dat baie wetenskaplikes geen verduideliking vir die ontwikkeling van die heelal vind, behalwe deur die bestaan van God te erken nie. Tog verwaarloos God se eie volk hom en draai hulle van hom weg. Die Here het duisende manier om onbekende mense sy eie te maak. Hierdie feit is die geheim wat Paulus beide bedroef en verheug het gedurende sy sendingreise (Handelinge 28:24-31).

God het ook aan Jesaja verklaar: “Ek het my hande die hele dag uitgebrei na 'n opstandige volk wat wandel op 'n weg wat nie goed is nie, agter hulle eie gedagtes aan; 'n volk wat My gedurigdeur in die aangesig terg” (Jesaja 65:2-3). Met hierdie verklaring wou die Here ons vertel dat hy sy hande uitgestrek het na sy ongehoorsame volk, soos ‘n moeder haar hande na haar kind uitstrek sodat hy nie neerval in vernietiging nie. God wil daarom graag sy mense red, maar hulle wou nie na hom luister nie. Hulle het sy woord doelbewus nie gehoorsaam nie en het haatlik teen hom gerebelleer.

Hoe groot is die liefde van God wat diegene nie verwerp wat hom verlaat en ongeërg leef met volgehoue rebellie nie. Hy gee hulle sy liefde ten alle tye. Op die ou end sal die Regter egter sy oordeel vel teen die meerderheid van sy gekose mense. Hulle is doelbewus ongehoorsaam en wil nie hê dat hy hulle red nie. Hulle is soos ‘n blinde mens wat, nadat hy gewaarsku is oor ‘n put, doelbewus struikel en daarin val. Die Here het sodoende aan Israel verklaar dat hulle alleen verantwoordelik is vir hulle desperate toestand, ten spyte van sy liefde vir hulle.

GEBED: O Vader van Jesus Christus, u is ons Vader wat sy hand na ons uitreik, soos ‘n moeder haar hande na haar kinders uitstrek dat hulle nie sal val nie. Ons aanbid u vir u liefde en vra dat u die ore van die kinders van Jakob sal oopmaak dat hulle die woorde van Jesus mag hoor en dit met dankbaarheid en vreugde sal gehoorsaam.

VRAE:

  1. Hoe kan elke mens vandag, as hy wil, die evangelie hoor, verstaan en aanvaar?
  2. Hoekom het God hernude individue uit al die nasie sy gekose mense gemaak?

www.Waters-of-Life.net

Page last modified on March 19, 2014, at 12:46 PM | powered by PmWiki (pmwiki-2.3.3)