Waters of Life

Biblical Studies in Multiple Languages

Search in "Afrikaans":
Home -- Afrikaans -- Romans - 047 (The Truth of Christ Guarantees our Fellowship with God)
This page in: -- AFRIKAANS -- Arabic -- Armenian -- Azeri -- Bengali -- Bulgarian -- Cebuano -- Chinese -- English -- French -- Georgian -- Greek -- Hausa -- Hebrew -- Hindi -- Igbo -- Indonesian -- Javanese -- Kiswahili -- Malayalam -- Polish -- Portuguese -- Russian -- Serbian -- Somali -- Spanish -- Tamil -- Telugu -- Turkish -- Urdu? -- Yiddish -- Yoruba

Previous Lesson -- Next Lesson

ROMEINE - Die Here is ons Geregtigheid
Studies in die Brief van Paulus aan die Romeine
DEEL 1 - DIE GEREGTIGHEID VAN GOD VEROORDEEL ALLE SONDAARS EN REGVERDIG EN HEILIG ALLE GELOWIGES IN CHRISTUS (Romeine 1:18 - 8:39)
E - ONS GELOOF IS VIR ALTYD (Romeine 8:28-39)

2. Die waarheid van Christus verseker ons gemeenskap met God ten spyte van alle probleme (Romeine 8:31-39)


ROMEINE 8:31-32
31 Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees? 32 Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?

Nadat Paulus aan ons God se gedagtes vir ons verlossing en uitverkiesing verduidelik het, sodat ons seker kan wees van ons keuse, bied hy aan ons ‘n reeks waarhede dat ons mag weet dat God die verlossing van die wêreld op egte historiese gronde bevestig het.

Paulus was seker dat God nie sy vyand was nie, maar ‘n getroue vriend wat in hom gewoon het ten spyte van enigiets wat mag gebeur. Hy het geglo dat die Almagtige, Skepper van die hemel en aarde, ons Vader is. Die apostel het in sy liefde vir God volgehou en die Almagtige geëer met geloof al die dae van sy lewe. Hy het alles as leiding van die liefde van sy Vader beskou, as Goddelike sorg van sy Redder.

Hoe het Paulus hierdie volkome sekerheid verkry wat berge van sonde kon versit en miljoene mense kon opwek van die dood in hul sonde? Die kruis van Christus was vir hom die bewys van die liefde van God. In die Gekruisigde Een het hy die goedheid van die Heilige Een wat na ons oorgevloei het herken, want hy het sy enigste Seun gegee as die versoening van ons sonde sodat elkeen wat in hom glo nie verlore sal gaan nie.

God het aan ons wat in ons harte ongehoorsaam en oortreders was, sy hemel en sy heerlikheid gegee in die koms van sy Seun. Daar is geen ander seëning in die hemel wat God nie aan ons gebied het in Christus nie, want hy het ons alles gegee in hom. Waar is jou aanbidding dus? Hoekom gee jy nie jou alles vir hom nie?

ROMEINE 8:33-34
33 Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak. 34 Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.

Jy mag dink dat die redding en beloftes slegs aan die heiliges en volwasse gelowiges behoort, terwyl jy slegs ‘n groentjie is, onsuksesvol, wankelrig en onrein. Wees stil en luister na die oordeel van God op jou. Hy het jou geregtig en regverdig gemaak, nie weens jou goedheid en sukses nie, maar omdat jy in die Gekruisigde Een geglo het, met hom verenig was en van hom alleen die krag van verlossing verwag het.

Jy mag dalk al na die beskuldigings van die duiwel geluister het, wat jou laat dink het dat jou stilte deur die wil van God veroorsaak is. “Nee,” sê die Heilige Gees. Hy vertroos jou, beskryf die gekruisigde Christus aan jou en herinner jou aan sy opstanding uit die dood sodat jy verseker kan wees dat versoening bewerkstellig is en dat God dit aanvaar het. Die Oorwinnaar oor die dood het na die hemel opgevaar. Hy tree in vir jou voor die troon van genade en maak jou ‘n vennoot in geregtigheid deur sy bloed. Jy het dus ‘n voorspraak by God. Jy is nie alleen nie, want die genade van God is met jou. Die doel is om jou te verlos en nie om jou te vernietig nie. Christus verseker jou verlossing.

Miskien vrees jy die dood. Tog moet jy onthou dat Jesus die dood oorkom het en waarlik uit die dood opgestaan het, dat hy die lewe van God gemanifesteer het. As jy nuutgebore is, dan het jy die ewige lewe. Dit sal nie eindig nie, want die liefde van God misluk nooit. Die dood kan jou nie van God skei nie.

ROMEINE 8:35-37
35 Wie sal ons skei van die liefde van Christus verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard? 36 Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape. 37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.

Paulus was nie ‘n verbeeldingryke digter toe hy die reeks probleme wat hy ervaar het aan ons beskryf het nie. Hy het getuig dat ons vir Christus moet ly, want geloof in die Vader, die Seun en die Heilige Gees verseker nie ons sekuriteit en welstand nie, soos dit duidelik is uit Jesus se lewe. Hy was gebore uit die Heilige Gees en was gekruisig deur diegene wat deur die gees van die wêreld besit is. Paulus het armoede en rykdom ervaar, siekte en swakheid, gevaar en vervolging, vyandige mense en die gevaar van verdrinking. Al hierdie dinge was vir hom onbelangrik, want hy het die liefde en voorsiening van Christus geken sodat die versoeking van wanhoop nie daarteen opgeweeg het nie. Jou geloof sal dus oorwinnend verskyn te midde van jou probleme asook in die uur van jou dood. Die Heilige Gees sal jou geloof versterk totdat jy verander word en in die skool van God leer wat sagmoedigheid, vertroue en lofprysing is te midde van probleme. Dan word jy soos ‘n lam van God in jou navolging van Christus. Jy verdra alles sonder om te kla en sterf aan jou eiewaardigheid en hoogmoedigheid. Die pynvolle opmerkings van ander word onbelangrik; jy juig en wag met geduld in die krag van jou Here.

Geen versoeking en probleme kan ons van Jesus skei nie, want probleme leer ons om aandag te skenk aan die Woord. Dan verlang ons na ons Here Jesus was ons na die Vader voorafgegaan het. Hy verstaan ons en verlaat ons nie, maar vergesel ons en versterk ons sodat ons sy groot liefde mag sien en hom doelbewus sal eer met dankbaarheid en goedheid. Die liefde van Christus lei ons na ‘n heerlike oorwinning en ons dien met vreugde te midde van probleme en trane.

GEBED: O heilige God, u is my Vader en u Seun is my voorspraak, vandag en op die oordeelsdag, en u Heilige Gees woon in my en vertroos my. Ek aanbid u, die Vader, die Seun en die Heilige Gees, wat liefde is. Ek glo dat ek nie sal sterf nie, want u is rondom my, bewaar my en vernuwe my. O God, weerhou my van alle versoekings dat geen sonde my van u mag skei nie, en dat my liefde, saam met die liefde van al die heiliges van die wêreld, nooit mag verander nie.

VRAAG:

  1. Hoe oorkom Christene probleme?

www.Waters-of-Life.net

Page last modified on October 09, 2013, at 08:59 AM | powered by PmWiki (pmwiki-2.3.3)