Waters of Life

Biblical Studies in Multiple Languages

Search in "Afrikaans":
Home -- Afrikaans -- Romans - 080 (A Warning against the Deceivers)
This page in: -- AFRIKAANS -- Arabic -- Armenian -- Azeri -- Bengali -- Bulgarian -- Cebuano -- Chinese -- English -- French -- Hebrew -- Hindi -- Indonesian -- Malayalam -- Polish -- Portuguese -- Russian -- Serbian -- Spanish? -- Turkish -- Urdu? -- Yiddish

Previous Lesson -- Next Lesson

ROMEINE - Die Here is ons Geregtigheid
Studies in die Brief van Paulus aan die Romeine
BYLAAG TOT DEEL 3 - SPESIALE VERSLAE OOR PAULUS SE KARAKTER AAN DIE LEIERS VAN DIE KERK IN ROME (Romeine 15:14 – 16:27)

6. ‘n Waarskuwing teen die misleiers (Romeine 16:17-20)


ROMEINE 16:17-20
17 En ek vermaan julle, broeders, hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het, en vermy hulle. 18 Want sulke mense dien nie onse Here Jesus nie, maar hulle eie buik; en hulle verlei deur hul vriendelike en mooi woorde die harte van die eenvoudiges. 19 Want julle gehoorsaamheid het algemeen bekend geword. Daarom verbly ek my oor julle, en ek wens dat julle wys mag wees teenoor wat goed is, maar onskuldig teenoor wat sleg is. 20 En die God van vrede sal die Satan spoedig onder julle voete verbrysel. Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle! Amen.

Terwyl hy sy brief afgesluit het, het Paulus waarskynlik te wete gekom dat fanatici van die groep van die wet van Moses, begin het om die Christene in die kerk wat in huise bymekaar gekom het, op te roep om die wet van Moses te onderhou en die gebruike wat van Judaïsme oorgeërf is. Hierdie wette het die onthouding van sekere kosse, vas op sekere dae en maande en die onderhouding van die Sabbat eerder as die Sondag, ingesluit. Die klem was op die Joodse skrif eerder as die skrif oor Christus.

Paulus het vinnig besef wat die ware aard van hierdie versoeking was wat die duiwel bewerk het in die huiskerke en die gevaar daarvan om weg te val tot die dwaling wat op goeie werke en onderhouding van die wet gebaseer is en om nie die genade van God alleen te omhels nie. Die kruis van Christus, volgens hierdie dwaalleer, is nie genoeg om verlossing te verkry nie, maar ons moet staat maak op ons eie pogings en die wet van Moses streng nakom.

Paulus het die duiwel se aanval teen die geregtigheid van Christus gesien, hy wat sondaars al hul sonde vergewe het volgens sy verklaring: “Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word”. Hy het diegene wat die genade van Christus wou verdraai beskryf as diegene wat tweedrag en aanstoot veroorsaak, in teenstelling met die leer waarvan die profeet Dawid gesê het: “Hulle het almal afgewyk, tesame het hulle ontaard; daar is niemand wat goed doen, ook nie een nie” (Psalm 14:3).

Paulus het hierdie bankrotskap van die mens verduidelik in sy brief aan die Romeine, en beklemtoon dat die weg van Christus die enigste weg na ons verlossing is (Romeine 3:9-24). Na hierdie verduideliking het die Joodse misleiers gekom en gepoog om weg te doen met waarmee Paulus gekom het, vóór sy brief by die kerk in Rome aangekom het. Paulus het daarom die kerk in Rome gewaarsku teen hierdie misleiers en leuenaars.

Voor dit gebeur het, in die eerste byeenkoms van die apostels in Jerusalem en nadat ‘n hewige argument ontstaan het met diegene wat fanaties was oor die wet onder die gelowiges, het Paulus duidelik gesê: “Nou dan, waarom versoek julle God deur op die nek van die dissipels 'n juk te lê wat ons vaders en ook ons nie in staat was om te dra nie? Maar ons glo dat ons deur die genade van die Here Jesus Christus gered word op dieselfde manier as hulle ook” (Handelinge 15:10-11).

Toe Petrus, die leier van die apostels, gepoog het om Jesus weg te draai van sy lyding en kruisiging, het Jesus vir hom gesê: “Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My 'n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense” (Matteus 16:23).

Al die pogings van die mens om met die kruis van Christus weg te doen en om hul verlossing op eie gronde te bewerkstellig, het misluk. Dit is alles duiwelse misleiding in wese. Dieselfde is waar van die pogings om Humanisme te laat herleef en aantreklik te maak, maar dit is in wese teen die genade van God. Almal wat na die paradys begeer deur die wet te onderhou, die historiese waarheid van die kruisiging te ontken asook die waarde van verlossing deur Christus, is vasgevang en mislei deur die duiwel.

In sy brief het Paulus die verwarde gelowiges in Rome opgeroep en vir hulle gesê: “Wees versigtig oor daardie misleiers en bly van hulle weg, en moet hulle nie toelaat om in julle huise te praat nie, want het julle nie verstaan wat Jesus bedoel het met sy stelling: ‘Dit was gesê van dié van ouds...Maar ek sê vir julle...’ nie? Daardie misleiers lewe in die verlede en het nie tot die nuwe tyd toegetree nie, die tyd van genade. Hou vas aan die Gekruisigde Een wat uit die dood opgewek is en julle sal vir ewig lewe.”

Paulus het tot sy waarskuwing bygevoeg en die gelowiges in Rome geprys en vir hulle gesê: “Ek is bly vir julle ware geloof en julle geestelike liefde, want julle het gehoorsaamheid geleer onder leiding van die Heilige Gees en julle het dit in julle praktiese lewens uitgeleef en hierdie geestelike waarheid het bekend geword in al die kerke van Griekeland. Soek daarom wysheid van die lewende Jesus dat julle mag onderskei tussen goed en boos. Doen wat goed is en los die domheid van die bose. Vra die lewende Here ten alle tye vir leiding wat op die evangelie gevestig is sodat hy julle mag lei na die regte geloof en julle in vrede met God mag leef”.

Na hierdie bemoedigende woorde het Paulus hulle in sy heilige woede belowe deur sy unieke verklaring wat nêrens anders in die Bybel gevind word nie: “En die God van vrede sal die Satan spoedig onder julle voete verbrysel” (Romeine 16:20). Hierdie beslissende stelling beteken dat die vrede van God, wat van homself kom wat vol vrede is, sal uitvloei na hulle harte. Hierdie God wat geen verwarring bring nie, sal die duiwel oorkom wanneer Christus weer uit die hemel kom. Paulus het aan die kerk in Rome bevestig dat dit die geestelike liggaam van Christus was en dat hulle daarom prakties sou ervaar hoe die Almagtige die bose een sou vernietig onder sy voete, want hulle was in Christus en Christus in hulle. “Julle kan nie die bose een oorkom deur julleself nie, maar God gooi hom neer onder die voete van sy geliefde Seun, want in hom neem julle deel aan die demonstrasie van sy verskynende en heerlike glorie” (Psalm 110:1).

Paulus was realisties. Hy het die Here Jesus gevra om die gelowiges in Rome te bewaar van die versoekings van die duiwel en om hulle te vestig in sy genade, want die genade is die sleutel tot die Vader, die Seun en die Heilige Gees se welbehae.

GEBED: O Here Jesus, u het ons geleer om te bid: “Lei ons nie in die versoeking nie, maar verlos ons van die bose”. Maak die oë van ons harte oop om te sien dat u oor die bose een triomfeer en weerhou ons van elke poging om onsself te red, want u alleen is ons Verlosser.

VRAAG:

  1. Wat is die fokus van die versoekings van die duiwel?

www.Waters-of-Life.net

Page last modified on March 19, 2014, at 01:17 PM | powered by PmWiki (pmwiki-2.2.109)